Prekmurski Bograč
Prekmurje is die mees oostelike tradisionele distrik van Slovenia, teen die grens met Hongarye. Die area was so laat as 1919 nog onder Hongaarse beheer, wat die sterk Hongaarse kultuur in die area verduidelik. Almal ken Hongaarse goulash, 'n bief-bredie met soetrissies, paprika en tamatie.
Die Hongaarse woord vir 'n rondeboom-kookpot is "bogrács". In effek is die bredie na die pot vernoem -- net soos goulash sy naam by die Hongaarse woord vir beesherder, "gulyás", gekry het. Hierdie is wekersklas-kos. En dit werk goed in 'n swart pot oor die vuur.
Bograč is 'n vorm van Hongaarse goulash, met ten minste drie soorte vleis -- bees, vark en wildsvleis -- en kruie en speserye wat paprika, uie, rooi soetrissies en rooiwyn insluit. Bograč kry nie tamatie in nie.
Bograč by die Gostilna Lipót in Dobrovnik
Bograč resep
Daar is verskye resepte, selfs in Engels. Hier is my een.
- 4 uie (750g), fyn gekap
- 2 e olie of vet
- 100g bykin (spek)
- 250g stowe beesvleis
- 250g stowe varkvleis
- 250g wildsvleis
- 500g aartappels in blokkies gesny
- 'n Lourierblaar of twee
- 1/2 t droë tiemie
- 1/2 t droë marjolein
- 2 e paprika
- 1 t sout
- 1 t peper
- 2 huisies knoffel
- 1 groot rooi soetrissie, in repies gesny
- 200ml rooiwyn
Braai die uie en spek stadig in die olie of vet, sonder dat die uie van kleur verander. Voeg die beesvleis by, soteer vir 20 minute. Voeg die varkvleis by vir 'n verdere 20 minute, en dan die wildsvleis vir nog 20 minute.
Voeg die kruie en speserye by en roer. Pak die aartappels bo-op en voeg genoeg water by om alles toe te maak. Kook totdat die aartappels gaar is.
Indien die vleis nog 'n bietjie taai is (dit sal van die snitte afhang), verwyder die aartappels en kook die res nog so 'n bietjie. Dit kook ook van die vloeistof af. Voeg die aartappels terug in, gooi rooiwyn by en bring tot kookpunt. Bedien met brood om die sous te absorbeer.
The soetrissie kan enige tyd bygevoeg word. Ek verkies om hom nader aan die einde in te sit sodat hy nie te pap kook nie.